Van waar die makelaars?

Besoek ek vanoggend ‘n gerekende finansiële adviseur. Dit in navolging van my ambisieuse 2015-voorneme om meer dankbaar te wees. Aag, sommer ‘n lukrake dankbaarheid, oor alles en almal wat my omring. En so sit ek vanoggend en luister na die man. Want om dankbaar te wees is nogal ‘n verantwoordelikheid, ‘n hewige las en grinterig van tekstuur, veral op ‘n delikate gestel soos myne. En algaande die man praat kan ek die skaaf aan my lyf voel. Hy draai die rekenaarskerm na my en wys my die profiel van ‘n welvarende boer; polisse en annuïteite word een na die ander gelys en dan praat ons nog nie van die huurinkomste uit sy talle eiendomme nie. Dan kyk hy my waterpas in die oë en sê hy’t nog altyd gewonder wat joernaliste verdien. Ek weet nie wat ander joernaliste verdien nie, antwoord ek. Dan vertel ek hom wat my maandelikse inkomste is. Daarna is die man vir die eerste keer die oggend, vir ‘n paar genadige oomblikke stil. Asof hy daar sit en die somme probeer maak. Maar iets skort met die wiskunde en dan staar hy my net aan. En ek begin ongemaklik voel. So is ek daar weg. Sonder veel finansiële raad van die gerekende finansiële kenner. As die syfers te klein is, so lyk dit my, kan selfs die bestes nie die somme maak nie. Op my oudag sal ek hieraan dink, elke keer as ek in die ry gaan staan vir my welsynstoelaag.

Leave a comment